So sit ek bykans twee weke later en top oor die jaar se Challenge, my vinnigste tot op datum. Kyk vanjaar moes nie eers gewees het nie, as Handelaarshoof van Vredendal Toyota moet daar eers 'n paar goedjies in plek val en om 50+ mensies gelukkig te hou gebeur nie altyd so maklik nie, veral nie as jy in die voorafgaande maand 'n paar nuwe aanstellings maak nie. Die mensies moet mekaar eers vind en baie gelukkig is ek bevoorreg om 'n reg span mense saam met my te kan hê en het hulle mekaar gevind en baie goed presteer terwyl ek op my fietsie deur die land gereis het.
Om in Vredendal te oefen is nie maklik nie, dis nie plat nie en dan spring die kwik diep in die veertigs in, soms haal dit sommer vyftig, ek dink spesifiek aan een Sondag wat die beplanning was om 'n baie lange te doen, wel na 6 ure en 110 km het my rit ge-eindig teen 'n gemiddelde tempratuur van 48 Grade. Ek was gedihidreer en wou nie meer die lou water in my bottel drink nie, die Ingelsman gebel en gesmeek om my te kom haal, ek kon eenvoudig nie meer nie...... Die groot nadeel van die hitte is dat jy daaraan gewoont raak, op dit seker manier maak dit jou hard, maar as dit -11 word is daar bykans 'n verkil van 60 Grade en dan vrek jy van die koue. Ek het al nagte buite geslaap op die race, maar ek kan in alle eerlikheid sê, dis nog die koudste wat ek gekry het.
Dan het Vredendal storm winde, kyk in Klerksdorp waai die wind altyd, matigend, maar in Vredendal is daar tekens van Windwaaiers, hier Storm die wind, maal dit met slegte sand paaie en 40 Grade plus en skaap chops en brannewyn en coke saam met die gasvryheid van die kontrei en jy het 'n lekker resep om nie te oefen nie, wat dan ook so die geval was. Ek het myself met drawwery besig gehou in Desember, in Januarie so bietjie begin besighou met die fiets, maar eers werklik suutjies begin oefen toe ek oorslaan na oggend ry wanneer die nie so blaas nie. Ek was op 'n stadium heel uit die race, die min oefen, lang ure by die werk en die gasvryheid van die kontrei het net teveel geraak, ek het vir Meryl laat weet, wat dit net eenvoudig nie wou aanvaar nie.
En so gebalsem met die vetjies vind ek myself toe op die startline een vroeë oggend in Junie, meer en deels die gevolg van Meryl se hardnekkigheid, JT en Mike wat ek op die recce vergesel het, wat my aanhou por het om deel te neem. Moet sê die recce het ek as 'n toets van my fiksheid gesien en die krampe op die eerste dag het die werklikheid weergegee, maar ook die lus in my wakker gemaak en JT se woorde van pace jouself net het in my agterkop vasgesteek.
Moet erken die eerste paar dae het maar bars gegaan, vir my heeltyd gevoel of ek myself weer alleen op die tandem bevind het en ek moes myself maar baie mooi pace, my grootste voordeel was die roete kennis, een ding minder om oor te worry.
So het ek myself maar dag vir dag gepace in die hoop dat ek fiks sou wees wanneer ek in Rhodes sou aankom, ek moes maar ook op bolip byt wanneer daar agtervolgers in die omgewing was, gelukkig het die spekkies dit baie maklik gemaak.
Soos in 'n vorige jaar herenig ek en Tim weer in Slaapkranz, ek en die man, moet ek sê verstaan mekaar en ry bitter lekker saam, ons weet wanneer om te trap en wanneer om te praat, ek was seker fiks in Rhodes maar die koue het my teruggehou, maar van Slaapkranz kon ek voel ek het die tandem afgeskud, die Rush het spoed gesoek al was dit teen die wind, ek wou net jaag. Ek en Tim het 'n baie goeie verstandhouding, albei baie verstand en baie houding en ons het die kilo's opgerol, soms saam mekaar en soms alleen om dan net weer saam te ry. Dit was vir my 'n baie groot eer en voorreg om sy sewende kombers aan hom te oorhandig en ek glo hy het die gevoel gedeel met die oorhandiging van my kombers. Ons het dit eintlik een vroeë oggend in die Osseberg besluit en dit gestand gedoen, wat 'n voorreg om die race met my mentor te kon deel !!!
Ek wonder soms hoekom ek so vroeg in die middernagtelike ure weggetrek het en in die vriesende koue oggend ure ingery het, my plan was om deur die nag te ry en dan in die vroeë oggend ure hinderlaag te lê, wanner ek die support station vir myself het. Die oorsaak was tweeledig, ek het die eerste aan vroeg gestop by Centocow wat my van daar in 'n roetine gegooi het, dit en die feit dat die volmaan eers laatnag opgekom het. Die volmaan maak 'n baie groot verskil in nag navigasie en nadat die volmaan plek gemaak het vir donkermaan was ek reeds in 'n roetine van tuseen 2-3 ure slaap en dan opstaan en ry.
Daar is net twee maal van die 2-3 uur slaap roetine afgesien, eerste keer by Slaapkranz waar ek amper verkluim het oppad soontoe en die tweede keer in Gamkaskloof waar die visgraat maneuver my teruggehou het.
Die res van die tyd was dit maar net min slaap, maar 2-3 ure slaap verrig wondere en 'n 25 minute catnap iewers onder 'n bos, wat vir baie vermaaklikheid gesorg het tussen die ander manne, soveel te meer. Ek dink spesifiek aan 'n geval in die Perdepoort, Tim was so ent voor my en het 'n 25 minute dekking geneem in die sonnetjie langs die pad, met my verbykomslag het die sing van die wiele hom wakker gemaak, hy wou nog so bietjie rus, met die volgende paar wiele wat verbykom het hy opgestaan, die manne ingehaal en weer verbygegaan. So 10 km verder het ek dit nodig geag om dekking te slaan, Tim se wiele het my eerste wakker gemaak en daarna die span agtervolgers, wat so in die mou gelag het vir die sogenaamde racing snakes wat hulle elke nou en dan onder 'n boom vind.
Ja as 'n man moeg is, is 'n man moeg en as jy jou oge toemaak is die skakelaar af en dan slaap jy eensklaps, so maklik soos dit. Dit bring my by die baie spesiale mense langs die roete, die support stations, lugpunte in 'n baie donker nag, moet sê dis nou al familie, ek het my eie kamer in elke huis en ek kry nogal voordele wat almal seker nie kry nie. Daar is 'n paar van die plekke wat my race plan heer verongeluk, ek weet ek moet verby, maar steek altyd vas, ek weet ek moet slaap, maar gesels altyd te lekker en ek weet ek moet opstaan, maar geniet altyd die laaste greinstjie vrienskap. Vir 7 jaar doen ek al aan by hulle en vir 7 jaar dra hulle my op die hande, baie opvallend is hoe vinnig die kinders groei, ek onthou vir klein Andrètjie wat bal gespeel het met my eerste visgraat maneuver en nou is hy 'n groot man wat my inwag op 'n perd, Sandra en Diederik, Wil en Stephanie se pragtige dogters, daai tyd op skool, nou amper op trou. Tyd vlieg, ek voel nie ouer nie, die ouers lyk ook nie vir my ouer nie, maar die kinders word groot.......
My eie kinders ook, hulle belangstelling in die ondekkende race geprikkel deur my jare se ervarings word ook groter. Alison en Danielle wil die ervaring saam met hul Pa deel, en die dag se aanbreek is nie vêr nie, hopelik is ek uitgerus teen daai tyd. Dit sal vir my 'n groot voorreg wees om die ervaring met hulle te kan deel, twee taai meisiekinners daai.
Ondersteuning is baie belangrik op die race, die kleinste kortste boodskappie is goud werk en as jy so dan en wan nog 'n gesels ook kan inkry, soveel te beter. Dankie my wonderlike vrou, kinders, familie en vriende vir julle ondersteuning, dit was regtig lekker om so elke nou en dan in die seinlose wonder wêreld van julle te kon hoor.
Die Freedom Challenge is 'n nederige race, en as jy nie nederig is nie, sal die Liewe Vader jou op jou kniee dwing en sorg dat Moeder Natuur jou nederig maak. Die hele race selfs Modor is asemrowend mooi en soms is dit net nodig om vir 'n oomblik stil se sit en God se Almag te ervaar, en dis dit wat die race vir my so bitter spesiaal maak.....
Twee weke later nadat ek klaar gemaak het, is my vingerpunte en my toontjies steeds dood, die visgraat hak nogsteeds in my pens, seker nie gewoont aan die snaakse kos wat ek nou eet nie, ek is 8 kg ligter, die blaas op my hak het verander in 'n moerse eelt, my kniee glad nie meer seer nie, ek sweet nog so nou en dan in die nag, droom nie meer ek is iewers op die pad besig om te race nie en dan wonder ek so terwyl ek die sterre beskou gaan ek ooit weer ry ???
Ek en Tim het mekaar die oggend in die Osseberg belowe ons is nou klaar, net hierdie enetjie klaar maak, want 6 is die duiwel se getal en die race het duur geword, pepper duur, uitgelewer aan 'n paar bevoorregtes. Dis nie net jou inskrywing nie, dis jou klere, jou fiets, jou bokse, vliegkaartjies, verblyf aan die einde en nog 'n hele span jakalsies wat geld vreet. Dis 'n jammerte, want toe ek my sommetjies maak vir 'n dubbel inskrywing saam met een van my dogters, toe weet ek sommer die tyd om te begin spaar het nou aangebreek.
En tog ten spyte van die kostes, wonder ek reeds oor watter tipe dyno hub ek moet gebruik, watter skoene ek volgende keer kan gebruik en oor wanneer die volgende keer gaan wees, want jy sien elke jaar belowe ek, ek is klaar en dan kom die kat weer en vind ek myself weer op die startline......
No comments:
Post a Comment